Meer oor Mariza van Zyl RD

Holistiese voedingterapie wat jou lewe kan verander.

Ek is 'n geregistreerde dieetkundige met uitgebreide kliniese, bedryfs -en onderrigervaring. Meer as 25 jaar gelede is BeterEet Voeding gestig na ek redelik ontnugter was met die manier wat voedingterapie voorgeskryf word. My doel was om 'n meer holistiese benadering tot voeding en gesondheid te promofeer instede van 'n té nougesette dieetlys met 'moets-en-moenies'. 

Dieetreëls en ‘n dogmatiese benadering het selde die gewensde impak - inderwaarheid kan dit meer kwaad as goed doen. Dit bly dit my strewe om 'n ruimte te skep waar mense wat hulp nodig het, toegang kan kry tot spesialis terapie - ongeag waar hulle woon of werk.

'n Spektrum van hulpmiddele is vandag beskikbaar wat bydra om akurate aanbeveling te maak - vir elke individu!   Hetsy dit bloedtoetse is of 'n genetiese -of mikrobioomanalise, 'n daaglikse bloedsuiker -of hormoonbalans meting is, niemand hoef meer te 'wonder' wat die beste benadering is nie. 

Benewens die beskikbare gespesialiseerde toetse, is dit ook nodig om ondersoek in te stel na al die simptome en kliniese tekens om 'n diagnose te maak en, selfs sonder duur toetse,  kan oplossings gevind word vir unieke gesondheidsprobleme.  Net soos 'n dokter 'n stetoskoop behoort te gebruik wanneer 'n pasiënt ondersoek word, gebruik 'n voedingkundige die liggaam se 'storie' om te verstaan waar dinge skeefloop. 

My loopbaan

Ek het meer as 30 jaar gelede gekwalifiseer as Kliniese Dieetkundige aan  Universiteit van Stellenbosch. Deur die eerste jare van my professionele lewe, het ek 'n florerende multisentrumpraktyk in Kaapstad gevestig met hoofkantore in die Paarl. Deur gereelde media verskynings, publikasies en konsultasiewerk,  het ek ‘n unieke platvorm geskep vanwaar die belang van 'n holistiese benadering tot gesondheid gepromofeer is. 

As konsultant vir toonaangewende korporosasies en media o.a. Woolworths Suid Afrika, Sarie Tydskif en Momentum en Medskema mediese fondse, het ek die geleentheid gehad om nie net aanbelings te maak nie, maar ook 'n rol te speel in wat op winkelrakke beskikbaar was. 

In 2020 het ek en my gesin a.g.v. familie omstandighede na die VK verhuis. Ek het kortliks as spesialis diabetes -en gewigsbestuurdieetkundige gewerk in die NHS (Nasionale Gesondheidsdiens) alvorens ek in 2022 'n pos aanvaar het by die Universiteit van Warwick. 

As Assistent Professor het ek opgetree as Kursusdirekteur vir 'n nagraadse program aangebied om dokters, aptekers, dieetkundiges en verpleegpersonelee op te lei om die behandeling van Diabetes te verbeter. Ek is ook betrokke by die onderrig van mediese -en nagraadse  gesondheidswetenskapstudente.

Ten spyte van die impak wat dié groot verandering persoonlike en professioneel gehad het, is dit steeds my passie en plesier om een-tot-een met kliënte en pasiënte regoor die wêreld te werk.

My Filosofie

Voeding is 'n kragtige katalisator - 'n vonk -  nie net vir genesing nie maar ook vir gewoon beter voel - maar daar geen perfekte dieet nie. Dieetintervensie kan in alle gevalle van akute of chroniese siekte bydra tot voorkoming, werklike genesing of ten ten minste verbetering.

Elke persoon se eetpatroon en leefstylbenadering behoort in te pas by sy eie genetiese,  metaboliese, fisiese en selfs emosionele omstandighede. Wanneer dít eerbiediging word, is leefstyl terapie lewensveranderend!  

As jy hier is om die volgende stap te neem – of dit is om 'n bestaande toestand aan te spreek of voorkomende sorg te optimaliseer -  ek stap graag die pad saam met jou.  

Mariza van Zyl RD(SA) RD(VK)