fbpx
Het jy al ooit gewonder waarom jy nog steeds honger is na die klein – maar ‘korrekte’ happie? Of gedink oor redes  waarom die ‘kleinbordjie’ -dieet nie vir jou gewerk het nie?

Honger en versadiging is heelwat meer kompleks as bloot die gedagteproses: ek moet nou ophou eet. Die proses van vertering begin reeds wanneer mens dink aan kos of dit ruik.

Vol voel het heelwat te make met hoeveel en hoe en jy eet

Alhoewel jou maaltyd samestelling (hoeveel vet, proteïene of koolhidrate die bord kos voorsien) ‘n effek het op versadiging, is dit ook belangrik om na twee ander faktore te kyk wat ‘n rol speel. Die eerste is hoe jy eet en die tweede hoeveel.

Sit, kou en sluk

Soos jy kou en sluk, word prosesse in die liggaam geïnisieer wat deel is van vertering. Dit is noodsaaklik om die gebruik van voedingstowwe vanaf kos vir o.a. energie maar ook die onderhoud van weefsel soos bene, vel, hare, naels ens. moontlik te maak.

Wanneer die kos deur die maag beweeg word hormone/chemiese stowwe afgeskei wat die brein laat ‘weet’ – ek het genoeg gehad!

Omdat die kos DEUR die maag moet beweeg voor die brein die ‘versadig’ boodskap kry, is dit belangrik om regop te sit en te eet (nie te lê nie) en stadig te eet. Anders eet mens heelwat meer – en teen die tyd wat die brein die ‘ versadig’ boodskap gekry het, het mens te veel geëet.

Die voordele van ‘n groter bord kos

Die ‘volume’ kos wat ons eet het ‘n direkte effek op die mate waartoe die maag rek – wat ook die boodskap brein toe stuur – ‘ek is versadig!’

Dit is waarom ‘n klein slaaitjie – al is dit hoe keurig en mooi, jou nie vreeslik tevrede laat voel nie!

Wenke om vol te voel sonder om ‘meer’ kalorië te eet

Sop, slaai en groente is potensieel baie handige dieethulpmiddele!

Groentesop voorsien heelwat ‘volume’ maar relatief min energie. Dit beteken mens voel versadig – maar sonder om te veel energie/koolhidrate en/of vette in te neem wat gewigsbeheer kan bemoeilik. In die somer kan groenteslaai of selfs koue groentesoppe hierdie funksie verrig! Die kuns is om groente deel te maak van meeste maaltye en te sorg dat ten minste die helfte van jou bord vol groente is – en dit sluit uit patat, aartappels en botterskorsie – dié is eerder styselgroentes.

Probeer gerus hierdie maklike, gesonde tamatiesop. Die bestandele is sodanig dat dit jou lekker vol sal laat voel en die bietjie rooipeper kan jou metabolisme so ‘n bietjie van ‘n hupstoot gee.   Kyk ook gerus na die heerlike brokkoli en amper- soos- botterskorsie-kerrie-sop.

Geurige Tamatiesop (Genoeg vir 10 porsies van 300 ml)

  • 3 blikkies tamatie in tamatiesap – gekap indien beskikbaar
  • 1 medium ui, gesny
  • 1 pakkie (500 g) klaar gesnyde pampoen (nie butternut nie)
  • 1 blikkie kekerertjies (chick peas) in water
  • 200 g pakkie rosa tamaties
  • 4 groot knoffel toontjies/ huisies
  • 4 teelepels sout
  • 1/2 teelepel rooipeper
  • ¼ Koppie gekapte pietersielie of basilie of oreganum
  • 30 ml olyfolie
  • 400 ml water (gebruik sommer die water om die laaste tamatie uit die blikkies te kry)

Braai uie in die olyfolie tot dit glaserig raak en voeg dan die pampoen/en 1/2 teelepel rooipeper by.  Roerbraai dié so bietjie saam. Voeg dan die blikkies tamatie, kekerertjies en sout by.

Laat prut hierdie mengsel tot die pampoen/wortel heeltemal sag is. Verwyder die sop van die plaat en versap. Gooi nou die vars tamaties en kruie en knoffel by en versap weer. Die vars tamatie-smaak verbloem dit bliktamatiesmaak

Bedien met ‘n eetlepel bulgaarse jogurt en ‘n vars gekapte kruie/geskeurde basilieblare.

Voedingswaarde per porsie

440 kJ
2,5 g proteïene
11 g koolhidrate
3,6 g vet
3,6 g vesel

  • Sign up
Lost your password? Please enter your username or email address. You will receive a link to create a new password via email.
We do not share your personal details with anyone.